Lees die volgende sprokie en beantwoord dan de vrae wat volg deur die blokraaisel volledig in te vul.
"Liewe Heksie en die Silwer Roos"
Deur Verna Vels
In die blomkamer van koning Rosekrans se paleis staan Blommeland se kosbare Silwer Roos. As die Silwer Roos ooit moet wegraak of gesteel word, sal al die blomme in Blommeland doodgaan. Dan sal koning Rosekrans en sy kabouters en Liewe Heksie nie meer ‘n land hê om in te woon nie. Die lelike Gifappeltjies probeer altyd om die Silwer Roos te steel. Hulle wil dit baie graat na Gifappeltjie-land neem. Daarom moet daar altyd ‘n kabouter by die Silwer Roos waghou.
Eendag laat roep koning Rosekrans vir Liewe Heksie en Blommie Kabouter. Hulle sit in die troonkamer vir hom en wag.
“Heksie,” fluister Blommie, “sê nou die Koning is kwaad vir ons.”
“Haaie oe,” sê Heksie, “ek is ‘n bietjie bang. Ek sal vir ons ‘n liedjie sing wat ek self gemaak het. dit is ‘n liedjie vir wanneer mens bang is.”
En Heksie sing alles op een noot:
“Liewe Heksie en Blommie is nie bang nie,
want koning Rosebaard kan hulle nie vang nie...”
“Sjjt, Heksie,” sê Blommie benoud, “hier is die Koning!”
“Ek het julle laat kom omdat ek wil hê julle moet by die Silwer Roos gaan waghou,” sê koning Rosekrans.
Blommie is baie bly. Die koning wou nog nooit gehad het dat hy by die Silwer Roos moet waghou nie, omdat hy Blommeland se kleinste kaboutertjie is.
“Blommie, jy moet help omdat die ander kaboutertjies al baie moeg is,” sê die Koning.
“Ek ook, koning majesteit, ek ook,” sê Heksie en lag dat haar enigste tandjie uitsteek.
“Ja, Levinia, maar ek wil geen moeilikheid hê nie,” sê die Koning streng, want hy weet hoe maklik Heksie in die moeilikheid beland.
“Ons sal die pragtige Silwer Roos baie mooi oppas, u majesteit,” sê Blommie. “U sal nie jammer wees dat u ons laat help het nie.”
Liewe Heksie skud haar kop dat haar hoed byna afval en sê: “En daar sal niks moeilikheid wees nie, koning Rosebaard.”
“Rosekrans, Heksie,” fluister Blommie.
Die koning sug net en sê: ”Ek hoop nie so nie, Levinia, ek hoop nie so nie.2
Daardie aand sit Heksie en Blommie in die blomkamer by die Silwer Roos en waghou.
“Haai oe, die Goue Papawer is darem mooi nè, Blommie?” sê Heksie.
“Ai, Heksie, partymaal is jy darem baie toe,” lag Blommie.
Heksie trek haar hoed oor haar oë en huil.
“Sies, jy lag vir my,” sê sy.
“Ek is jammer dat ek gelag het, Heksie, maar dis ‘n Silwer Roos, nie ‘n gouer papawer nie.” Blommie is nog dik van die lag.
“Ek weet nie van papawers nie,” sê Heksie.
Voor Heksie verder kan huis, sê Blommie: ”Ons moet nou stil sit en die deur dophou, Heksie. Ons het die Koning belowe dat ons die Silwer Roos mooi sal oppas.”
Hulle sit so ‘n rukkie en toe sê Blommie: “Heksie, jy moet ‘n bietjie slaap. Ons kan nie altwee wakker bly nie. Slaap jy eers, en dan sal ek slaap.”
“Nee, ek sal wakker bly, want ek wil ‘n liedjie maak,” sê Heksie.
“Goed, Heksie, maar jy moet my wakker maak as jy dalk ‘n Gifappeltjie sien,” sê Blommie.
Heksie kyk bangerig in die blomkamer rond.
“Hoe lyk hulle?” fluister sy.
“Sulke lelike kaboutertjies met geel klere,” sê Blommie.
“Ek weet nie van geel nie,” sê Heksie.
“Ag, Heksie,” sug Blommie en wys na die groot sonneblom. “Daardie sonneblom is geel.”
Toe Blommie aan die slaap is, sing Heksie haar liedjie:
“Heksie en Blommie is nie bang nie
want koning Rosekrans kan hulle vang nie.
Die Gifappels se klere is geel
En hulle wil die papawer steel.”
Skielik is daar ‘n geklop aan die deur. Dis sowaar die Gifappeltjies wat die Silwer Roos wil steel.
Heksie maak die deur oop. Sy het al klaar vergeet wat Blommie van Gifappeltjies gesê het. Sy sien net hulle waentjie.
“Haai oe, dis ‘n mooi waentjie, kan ek ‘n bietjie ry?” vra sy.
“Sjjt, jy moenie vir Blommie wakker maak nie,” sê die een Gifappeltjie.
“Kan ek ‘n bietjie ry?” fluister Heksie.
“Nee, ons kan nie tyd mors nie,” sê die ander Gifappeltjie kwaai. “Die Koning het ons gestuur om die Silwer Roos te kom haal.”
“Die Silwer Papawer mag nie hier uitgaan nie,” sê Heksie.
“Ons weet,” sê die een Gifappeltjie, “maar die Koning het gesê ons moet dit daarbo in die toringkamer gaan toesluit.”
“Ja,” fluister die ander een. “Hy het gehoor dat die Gifappeltjies vanaand die Silwer Roos gaan probeer steel.”
“Ons moet die Silwer Roos op die wa kry,” sê die kwaai Gifappeltjie.
“Ek sal julle help,” sê Heksie en glimlag dat haar enigste tandjie uitsteek.
Voor Heksie en die Gifappeltjies die Silwer Roos op die waentjie kan laai, word Blommie kabouter wakker.
Hy skrik om boeglam toe hy die Gifappeltjies sien, “Heksie,” roep hy uit. “Wat maak jy en die Gifappeltjies?”
“Gifappeltjies?” sê Heksie verskrik. “O, Griet!”
Skielik sê ‘n stem van die deur se kant af: “Ja, Levinia, wat kan ek vir jou doen?”
Dit is Heksie se perd, Griet, wat sy partymaal per ongeluk toor.
“Haai, Griet, ek is so bly ek het jou getoor,” lag sy.
Toe die Gifappeltjies vir Griet sien, hardloop hulle deur toe.
“Keer hulle, Griet!” skreeu Blommie
“Toe maar, Blommie, hulle sal nie by my verbykom nie,” sê Griet en hy jaag die Gifappeltjies terug.
“Nou gaan ek julle in julle eie waentjie toesluit,” sê Blommie kwaai.
“Heksie,” raas Blommie, “skaam jy jou nie. Jy was besig om die Gifappeltjies te help om die Silwer Ros te steel.”
Heksie skud haar kop. “Is nie! Hulle het nie vir my gesê hulle is Gifappels nie.”
“Maar hulle het dan geel kleertjies aan.” Blommie is sommer baie kwaad.
“Ek het ‘n bietjie vergeet van geel,” sê Heksie skaam
“Ek dink Levinia moet vir koning Rosekrans gaan vertel van die Gifappeltjies,” sê Griet, en Heksie vlieg deur die venster om die Koning te gaan roep.
Daardie aand slaap die Gifappeltjies in Blommeland se tronk.
“Ja, Levinia,” sê die Koning, “jy kan bly wees Griet het julle kom help, anders was jy nou in die tronk in plaas van die Gifappeltjies.”
“Ja, koning majesteit,” mompel Heksie.
Sy is ‘n bietjie skaam omdat sy nie die Gifappeltjies herken het nie.
“Nou ja,” sê die Koning. “Griet is nou hier om julle te help waghou. Ek gaan slaap.”
Toe die Koning weg is, vra Blommie vir Griet waar hy sie meisienaam gekry het.
“By Heksie,” lag Griet. “Sy het ‘n bietjie vergeet dat dit ‘n meisienaam is.”
“Dis ‘n mooi naam,” sê Heksie, “daar is nie baie hekse wat se perde se naam Griet is nie.”
“Ek het nog nooit van ‘n heks met ‘n perd gehoor nie,” sê Blommie.
“Ek ook nie,” sê Griet.
“Ja, maar ek is nie soos ander hekse nie,” sê Heksie, “hulle toor paddas en muisvlerre...”
“Vlermuise, Heksie, nie muisvlerre nie,” lag Blommie.
“O ja,” sê Heksie, “hulle toor paddas en vlermuise, maar ek toor vir Griet.”
Ahw dis 'n oulike storie!!!
ReplyDelete